Die Oppiland Fees

Lefra Produksies en die Stable Inn Konferensiesentrum het so pas die grootste Fees wat nog ooit vir Gauteng beplan is, bekend gestel. Die Oppiland Fees sal van 26-28 Mei 2023 by die Stable Inn Konferensiesentrum in Springs plaasvind. “Ons het meer as dertig top kunstenaars wat gaan optree, vlooimarkte, vermaak vir die kinders, kos en drank, ‘n wynlapa, rofstoei, toneelopvoerings en selfs ‘n kunswerkswinkel,” sê Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksie en Feesdirekteur van die Oppiland Fees. “Ons het al lankal besef dat Gauteng nie ‘n lekker kuierfees aanbied nie en juis daarom het ons die Oppiland Fees in die lewe geroep. Die Stable Inn Konferensiesentrum is die ideale venu om so ‘n fees aan te bied, want die hele sentrum is groter as 25 hektaar. Daar is baie lokale op die perseel en ons gaan elke liewe gaatjie gebruik om ‘n lekker Fees aan te bied.” Die Oppiland Fees word aangebied met die vriendelike samewerking van Lefra Produksies, Stable Inn Konferensiesentrum, Lekker FM, ProSafe, Ambassador Execudrive, Britz Couriers and Removals, Crown National – tuiste van Six Gun Grill, Red Pen Marketing, WS Pianos, RSG, Lift, Hollywood Costumes, Grotman Biltong, LTickets en Van Loveren Wyne.

Swart sê dat hy en die Bestuurders van Stable Inn, Gunte en Adri Kommer, een aand lekker oor ‘n bottel tequila gesels het oor ‘n Fees vir Ekurhuleni, maar ook vir die hele Oos-Rand. “Hulle het Lefra se Oppiwater Kunstefees aanboord die MSC Orchestra baie geniet en met die wonderlike idee van ‘n Oppiland Fees gekom. Ons het dadelik van die idee gehou en so is die Oppiland Fees gebore wat hopelik ‘n jaarlikse instelling op die Feeskalender gaan word,” sê Swart. Die Oppiland Fees gaan oor drie dae aangebied word. Op Vrydag, 26 Mei 2023 is die tema Rock, op Saterdag, 27 Mei 2023 is dit Afrikaans en op Sondag, 28 Mei 2023 is dit Gospel en Country.